Ons het mos in Suid-Afrika ‘n paar sêgoed – sommiges baie oulik en waar en ander – wel, nie juis nie. Die een is: “Ek kan mos na die menu kyk, maar ek eet by die huis.” Of die ander: “Jy moet eers ‘n paar goed op die menu toets voordat jy rêrig weet waarvan jy hou.”
LEES MEER: Dis winter in Namakwaland!
Jy hoef nou nie ‘n vuurpylwetenskaplike te wees om te weet dat ons nie rêrig hier van kos praat nie, maar van die teenoorgestelde geslag. En in hierdie geval gaan dit oor die huwelik.
Maar kom ons speel bietjie met die menumetafoor en kyk wat dit oplewer.
Dis Saterdagaand en dit was ‘n lang week. Jy’t die oggend lekker laat geslaap en al jou huiswerkies is nou klaar gedoen. Jy’s honger en besluit om jouself te treat en bel die steakhouse om ‘n plek te bespreek. Jy worry nie nog met mense of vriende nie, jy gaan alleen. Jy wil elke happie van die perfekte maaltyd geniet, en dan huis toe kom en ‘n movie kyk totdat jy aan die slaap raak, verkieslik nog voor die TV!
Die steakhouse het daai flame grilled-en-oliereuk, die ligte skyn dof, ou countrymusiek speel in die agtergrond, nie te hard nie, net reg, soos Gouelokkies se pap. Jou koue glasie staan voor jou, die druppels loop teen die kant af terwyl jy die menu deurblaai, op soek na die beste dis, die ene wat by jou sal pas, jou soulmate!
Jy speel met die gedagte om ‘n voorgereg te kry, maar besluit vinnig daarteen. Dit gaan net die hoofgereg spoil. Daar is so baie om van te kies, die een verskil soveel van die ander, maar tog lyk als so lekker op hulle eie manier. Moet ek gaan vir die steak, ‘n varkie, of dalk ‘n pasta? Die pizza lyk ook lekker. Of dalk ‘n bietjie seekos? Ek kan nie alles vat nie. Meer as een maaltyd en ek bederf die res. Ek moet mooi dink. Van die goed sal nie lekker akkordeer met my maag nie, ek ken myself alte goed. Ander is weer gesond, maar seker nie so lekker nie. Dis tog darem ‘n spesiale okkasie. Hierdie een sal my hopeloos te vol maak, daai ene gaan my opblaas. Hierdie gee sooibrand, daai maak vet. Soveel om te oorweeg…
Net so is dit met vrou of man soek. Die opsies is baie. Daar is baie potensiaal, maar almal sal nie noodwendig goed akkordeer met jou nie. Ook kan jy nie ander disse eet nie. Hoe meer jy doen, hoe minder spesiaal raak die hoofgereg, maak nie saak hoe goed dit is nie. As die bord voor jou staan nadat jy jou keuse gemaak het, wat is die punt om verder deur die menu te blaai? Sal dit my nie dalk laat twyfel aan my eie keuse nie? Sal ek dalk nie begin vergelyk met dit wat ek het nie?
Ook sê ek nie hier jy mag nie date en iemand leer ken nie, dis deel van die proses, soos om na die menu te kyk voordat jy die besluit maak.
Ek praat nou prontuit. As jy soek vir ‘n lewensmaat, rig jouself met die gedagte dat daar net een is en dat jy nie gaan rondneuk terwyl jy wag nie. Hoe meer jy vat voor die huwelik, hoe meer vat dit uiteindelik weg van daai huwelik. Alles wat ons in die lewe doen, het ‘n prys. Elke aksie het ‘n reaksie. Dink jy dit tel nie hier nie? Jy sal dwaas wees as jy stry.
Daar is soveel van ons wat wens, bid en verlang na ons lewensmaats, maar is jou manier van lewe die persoon wat jy soek waardig? As jy nog single soos ek is, weet wel dat jy besig is om te saai in jou huwelik wat kom as jy daai spesiale persoon ontmoet. My vraag is net of jy gaan vrugte pluk, of distels en dorings?
Maar skep moed, dis nooit te laat om die pad reg te begin loop nie, al was jy hoe ver daarvan af. En daar is Een wat saam met jou loop terwyl jy alleen is, wat jou sal sê wanneer jy skeef trap, en met alle liefde en geduld weer terugbring op die regte weg!





