SUID-AFRIKA. – Inwoners van oral oor die land het al die naweek uiteenlopende weersomstandighede ondervind. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWS) het verskeie waarskuwings uitgereik vir onstuimige weer wat tans oor die land trek. ’n Afgesnyde laagdrukstelsel raak groot dele van die Wes-Kaap, Noord-Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.
Nuusflits-lesers van regoor die land het intussen self hul weerervarings op sosiale media gedeel. In Aurora het Debbie Henning Kotzé sterk winde beleef, met sand en blare wat oor die landerye gewaai het. Buite Gordonsbaai het Heidi Visser berig dat die wind teen 110 kilometer per uur waai, en dat hulle krag daar afgesny is.
Nie almal het dieselfde ekstreme weerstoestande ervaar nie. In Walvisbaai was dit mistig en koel by 16 grade Celcius, terwyl Secunda bewolk, winderig en koel was met 5 mm reën. In Rustenburg was dit koel en reënerig, en in Wakkerstroom het die temperatuur na 9 grade Celcius geval, met winderige en oortrokke toestande. Volgens Phillip Roodt was daar Vrydagmiddag ’n hewige haelstorm in Delmas.
Aan die ander kant van die land was daar plekke waar die son steeds deurgebreek het. George het geen wind en volop sonskyn gehad, terwyl Kuilsrivier ’n pragtige sonskynnaweek beleef het. Mosselbaai het ook mooi sonskynweer gehad, met min wind.
Elders was dit weer bitter koud. In Benoni het inwoners Vrydag ligte hael ervaar, terwyl Rehoboth as “baie koud” beskryf is. In Kuruman se Wrenchville-woonbuurt was dit koud en reënerig.
Die verskillende weerspatrone bevestig wat dieSAWS voorspel het: ’n stelsel wat wissel van hewige wind en reën in party gebiede, tot koue en bewolkte toestande in ander, terwyl sommige dele van die land steeds droë en sonnige weer geniet het.