Weermaglede sterf toe hulle in mynskag val

Lees ook :

Foto's: SAPD

GAUTENG. – Twee lede van die Suid-Afrikaanse nasionale weermag (SANW) is Vrydagoggend dood tydens Operasie Prosper, ‘n operasie wat op onwettige mynbou in die weste van Johannesburg gemik is.

Siphiwe Dlamini, woordvoerder vir die weermag, sê die voorval het omstreeks 06:00 by die verlate CRD-myn plaasgevind, toe soldate vermoedelik onwettige mynwerkers uit die ondergrondse tonnels sien kom het. Terwyl die verdagtes agternagesit is, het die twee SANW-lede in ‘n oop, verlate vertikale mynskag geval. Gespesialiseerde reddingspanne, waaronder mynreddingsdienste en rampbestuurspanne, is na die toneel ontbied. Die liggame van die twee soldate is later uit die skag gebring.

Die proses om die oorledenes formeel te identifiseer en hul naasbestaandes in kennis te stel, is aan die gang. Hul name sal bekend gemaak word sodra hul families ingelig is.

Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê voorlopige inligting dui daarop dat die soldate vermoedelik onwettige mynwerkers in ‘n ondergrondse tonnel agternagesit het toe hulle in ‘n verlate mynskag geval het. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek.

Firoz Cachalia, polisieminister, het die oorledenes as toegewyde openbare dienswerkers beskryf wat hul lewens in diens van die land opgeoffer het. Hy sê hul dood is ‘n groot verlies vir die veiligheidsdienste en die land. Lt.genl. Puleng Dimpane, die waarnemende nasionale polisiekommissaris, het ook aan die beamptes hulde gebring.

Ondanks die voorval duur Operasie Prosper voort. Tydens Vrydag se optrede in Gauteng is 20 vermoedelike onwettige mynwerkers in hegtenis geneem. Negentien van hulle is buitelandse burgers wat onwettig in Suid-Afrika is, waaronder nege Mosambiekers, ses Zimbabwiërs, drie Malawiërs en een burger van Lesotho. Een Suid-Afrikaner is ook in hegtenis geneem.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief