ROME. – ‘n Werker is gister oorlede nadat hy vir 11 uur vasgekeer was onder ‘n deel van ‘n Middeleeuse toring wat gedeeltelik in Rome ineengestort het.
Lees ook: Japannese toeris dood ná val by Pantheon in Rome
Octay Stroici (66), ‘n Roemeense werker, was vir 11 uur onder ‘n deel van die Torre dei Conti in die toeristehart van die Romeinse Forum, vasgekeer. Hy is deur ‘n ingewikkelde en lang operasie deur brandbestryders bevry, terwyl sy vrou toegekyk het. Altesaam 140 brandbestryders was by die redding betrokke. Sy hart het egter in die ambulans gaan staan en hy is daarna in ‘n hospitaal dood verklaar.
Dele van die 29 meter hoë Torre dei Conti, naby die Colosseum, het gister ineengestort terwyl 11 werkers daar restouriasiewerk gedoen het. Nog dele van die toring het ineengestort terwyl brandbestryders besig was om mense te red. Een werker (64) is byna onmiddellik uitgehaal en is met kopbeserings na ‘n hospitaal geneem. Nog twee werkers is beseer, maar het behandeling geweier.
Die aanklaerskantoor het ‘n ondersoek oor moontlike nalatigheid begin.
Bronne: BBC, ABC, The Independent





