NOORD-KAAP. – Munisipale personeel in Kimberley het teen Donderdag verlede week reeds hulle 40-uur-werkweek voltooi. Dit het veroorsaak dat ‘n stukkende waterpyp in Kenilworth nie herstel kon word nie.
Dit het onnodige finansiële verliese vir die munisipaliteit beteken.
Simoné Greeff, raadslid van die DA vir Sol Plaatjie-munisipaliteit, is van mening dringende maatreëls moet ingestel word sodat noodsaaklike werk in en om Kimberley gedoen kan word. Die waterpyp kon na vrugtelose uitgawes eers teen Maandag aandag geniet.
Intussen is ‘n kontrakteur teen ekstra kostes vir die waterpyp uitgeroep. Hy het egter ‘n deskundige van die munisipaliteit benodig en kon nie die werk voltooi nie. Waterveliese is tussen Donderdag en Maandag ervaar en omdat daar nie ‘n bestuurder beskikbaar was nie, kon die gemeenskap eers teen Sondag water van die munisipaliteit kry.
Greeff sê teen die tyd wat die munisipaliteit ingetree het, het die DA klaar watervoorsiening met ‘n vragmotor gereël.
“Alhoewel dit verstaanbaar is dat Sol Plaatje sy oortyduitgawes moet beperk, is die huidige situasie onvolhoubaar en dit skep ‘n risiko vir noodtoestande. Kimberley se water-en-rioolinfrastruktuur is geneig om gereeld te breek. Met die somer op hande, word waterafsluitings ‘n groeiende werklikheid. Sol Plaatje het dus ‘n plan nodig om te verseker dat sulke noodgevalle vroeër, eerder as later, hanteer word.”
Greeff sê die DA het bekommernisse by die munisipale bestuurder aangemeld.
“Oortydbetalings moet deur behoorlike bestuur in toom gehou word. Dit kan egter nie heeltemal geskrap word nie, ten koste van dienste en teen ‘n bykomende koste vir belastingbetalers.”
Nuusflits het kommentaar van Sol Plaatje gevra.





