WES-KAAP. – Minstens 15 noodfakkels wat Donderdagaand diep in die see langs die Weskus waargeneem is, bly ’n raaisel nadat ’n uitgebreide soektog geen teken van ’n boot of mense in nood opgelewer het nie.
Craig Lambinon van die NSRI sê die Melkbosstrand-span is omstreeks 21:40 geaktiveer nadat ’n ooggetuie berig het dat fakkels in die diepsee van Duynefontein af sigbaar was. Volgens Rowan Marais, stasiebevelvoerder van NSRI-Melkbosstrand, is verdere fakkels deur die reddingspan waargeneem. Dit is na raming minstens 10 seemyl van die kus af gesien. NSRI-Yzerfontein is versoek om op die uitkyk te wees, terwyl die maritieme reddingskoördineringsentrum, Transnet- nasionale haweowerheid, Tafelbaaise hawebeheer en die polisie in kennis gestel is. Skepe in die gebied is ook gewaarsku. Rotary’s Gift, ‘n reddingsboot, is te water gelaat en ’n soektog uitgevoer wat tot meer as 10 seemyl van die kus gestrek het. Ondersoek is ook ingestel om vas te stel of enige plaaslike bote moontlik nog op see was.
Twee vaartuie, ’n motoraangedrewe vaartuig en ’n vissersboot, het aangedui dat hulle geen fakkels gesien het nie. Ten spyte van die uitgebreide soektog was daar geen tekens of verslae van ’n vaartuig of mense wat in nood verkeer het nie.