As jy vir ’n dag in die skoene van enige historiese figuur kon staan, wie sou jy kies? Ons het die vraag aan Nuusflits se lesers gestel, en die antwoorde het ons nie teleurgestel nie. Van tong-in-die-kies-opmerkings tot diep filosofiese besinnings, hier is ’n paar van die interessante reaksies:
Moiselle Klein het sonder skroom vir Jan van Riebeeck gekies, maar nie om sy roem te herleef nie. Nee, sy het ’n ander rede: “Ek wil vir hom vra wat het hy gedoen dat hy nou nog al die skuld kry vir als?” Dis nogal ’n vraag waaroor baie van ons seker al gewonder het.
Ronel Allner gaan veel verder terug in tyd en kies vir Eva. Haar plan? “Ek sal sorg dat ek ver wegbly van daai boom met die verbode vrug!” Ja, Ronel het dit reg – as jy die geskiedenis kan verander, hoekom nie begin by die oorspronklike probleem nie?
Rhonda Nkoko het ’n heel ander perspektief. Sy wil niemand anders wees nie. “Ek sou myself kies,” sê sy. Sy glo vas dat elkeen van ons uniek is, en sy wil nie iemand anders se probleme, vreugdes, of foute oorneem nie. Sy sê dit reguit: “Ek sien niemand bo of onder my nie.” ’n Ware les in selfliefde en aanvaarding, want kom ons wees eerlik, wie het tyd vir ander mense se drama?
Laastens kies Clarina Leeuwskitter Nelson Mandela. Sy is gereed om in die voetspore van ’n legende te stap, om te verstaan hoe hy so kalm gebly het te midde van al die chaos en die geheime van ‘n groot gees te ontrafel.
So, daar het jy dit – ons lesers se keuses oor wie hulle sou wou wees, gee ons ’n goeie idee van wie hulle self is: mense met humor en wysheid.





