Wikus Vermaak (14) wat van aanlyn speletjies, teken en inkleur hou, is met sistiese fibrose gebore. Ivan Vermaak (3), Wikus se jonger broer wat van speelgoedmotors en die buitelug hou, is ook met die siekte gediagnoseer.
“Sistiese fibrose, ook bekend as sistifibrose, is ‘n seldsame genetiese siekte wat veral die longe aantas, maar ook die pankreas, lewer, niere en die derms.”
Danika Schoeman en Franco Vermaak van Heidelberg, die twee seuns se ouers, sê aan Nuusflits: “Party dae is dit rof, maar ons vat dit soos dit kom, ons weet ons moet sterk staan en positief bly. Die seuns lyk op die oog af normaal, dit is net aan hulle groei en gewig wat mens kan sien is ‘n probleem.”
Wikus se derm het probleme gegee toe Danika slegs 26 weke met hom swanger was. Hy was maar 9 uur oud toe hy die eerste keer geopereer is en moes 16 dae later weer ‘n operasie ondergaan. Gedurende 2015 het sy lewer begin probleme gee, waarvoor hy medikasie moes drink. Hy was in Desember 2016 soos gewoonlik weer in die hospitaal opgeneem, maar hierdie keer is hy na die Donald Gordon-oorplantingshospitaal oorgeplaas. Hy moes binne ses maande ‘n leweroorplanting kry, waarvoor mamma Danika op 30 Mei 2017 ‘n deel van haar lewer aan hom geskenk het.
“Wikus het ‘n verswakte immuunsisteem en ons moet hom van siektes weghou, anders kan hy in die hospitaal beland. Hy kry tuisskoolonderrig en weeg nou maar 27 kg. Hy raak party dae baie vies oor die siekte, maar ons hanteer dit maar dag tot dag.”
Omdat Wikus met die siekte gebore is, is Ivan ook kort na geboorte daarvoor getoets en die uitslag was positief. Wikus is die een wat tans die ergste onder simptome van die siekte deurloop.
“Ivan word ook siek, maar nie so erg soos Wikus nie.”
‘n Paar weke gelede is Wikus in die hospitaal opgeneem omdat hy bloed opgebring en gehoes het en nie gewig opgetel het nie. Daar is vasgestel Wikus het slegs 40% longkapasiteit oor. Hy drink ongeveer 15 tablette ‘n dag. Nou is ‘n peperduur tablet, genaamd, Trikafta, vir hom voorgeskryf, wat nodig is om hom te help om soos ‘n tienerseun te lewe.
“‘n Jaar se voorraad van die tablet kos egter ‘n astronomiese R440 000. Ons was genoodsaak om skarebefondsing te begin, aangesien die mediese fonds net die helfte van die tablet se kostes dek en die res moet ons uit ons eie sakke opdok. Dit gaan maar moeilik wees, aangesien Franco wel werk, maar ek moet na die seuns omsien,” vertel Danika.
Ivan het onlangs met Ouboet se opname in die hospitaal langs hom in die hospitaalkamer beland en toetse is gedoen, net om te hoor die sistiese fibrose is in sy longe en hy is met staph gediagnoseer. Hy drink so tussen vyf en ses tablette daagliks.”
“Staphylococcus aureus (bekend as staph) is ‘n stafilokokkusbakterie wat redelik algemeen onder die algemene bevolking voorkom. As iemand met sistiese fibrose (CF) egter ‘n stafilokokkusinfeksie ontwikkel, kan die bakterieë vinnig groei en versprei, wat ernstiger probleme veroorsaak.”
“Trikafta kan Wikus so baie help. Soos ek voorheen genoem het, bly ons positief vir die seuns en hanteer elke dag wat ookal op ons pad kom. Ons wil net graag die seuns, veral nóú vir Wikus, se lewensgehalte verbeter,” sê Danika.





