Witrenosterkarkas, horing intakt, op plaas ontdek

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

LIMPOPO. – ‘n Witrenosterkarkas, met die horing nog intakt, is Maandagoggend net na middernag in die Dwaalboom-area op ‘n plaas ontdek. Twee verdagtes is in hegtenis geneem.

Kol. Malesela Ledwaba sê veiligheidswagte by ‘n natuurreservaat het skote gehoor en ondersoek ingestel deur die plaas te patrolleer. Hulle het op ‘n karkas van ‘n witrenoster met ‘n horing wat nog nie verwyder is nie, afgekom.

Verskeie eenhede het saamgewerk en die twee verdagtes, wat glo op die plaas weggekruip het, is omstreeks 02:00 aangekeer. Die verdagtes het na bewering gebruikte patroondoppe, twee messe en ‘n jaggeweer met vier rondtes ammunisie in hulle besit gehad.

Modimolle se eenheid vir bedreigde spesies, die Dwaalboom-polisie, Wildlife-veiligheidsmaatskappy, Welgevonden honde-eenheid, Thaba Tholo-veiligheidsmaatskappy en SA Parke-beamptes saam met plaaseienaars en ‘n helikopter is gebruik om die verdagtes op te spoor.

Tydens voorlopige ondersoek is gevind die jaggeweer is in Augustus 2023 in Thabazimbi as gesteel aangemeld.

Die verdagtes, ‘n SA-burger (38) en Mosambiekse burger (39), sal binnekort op aanklagte van stropery van ‘n beskermde spesie en die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie in die Thabazimbi-landdroshof verskyn.

Die ondersoek duur voort.

Foto’s: SAPD

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief