Aggressie kan vinnig die oorhand neem en jou buite jou natuur laat optree. Jy kan egter konflik voorkom en beter interpersoonlike verhoudings bou indien jy leer om jou aggressie beter te beheer.
Hier is vyf wenke:
1. Asemhalingsoefeninge
Wanneer jou bloed begin kook, haal ’n paar keer diep asem of tel stadig tot tien. Dit gee jou tyd om oor jou optrede te dink.
2. Wees empaties
Probeer om die situasie uit die ander persoon se perspektief te sien. Dalk verstaan jy haar of sy optrede beter.
3. Stel grense
Kommunikeer jou behoeftes en grense duidelik. Byvoorbeeld wanneer ’n familielid ’n onvanpaste opmerking maak, sê: “Ek voel nie gemaklik met daardie tipe kommentaar nie.” Dan weet julle albei waar julle met mekaar staan.
4. Gebruik kalmerende taal
Verlig die spanning deur ’n rustige stemtoon te behou terwyl jy praat. Dink twee maal voordat jy vloek. Dit sal net meer spanning veroorsaak. Gebruik eerder sagte woorde.
5. Soek hulp
Indien jy alle advies gevolg het en raadop is, gaan soek professionele hulp. ’n Sielkundige of berader kan jou moontlik help om by die wortel van jou aggressie uit te kom.
Deur die wenke toe te pas, kan jy ’n beter begrip ontwikkel van hoe om aggressie te beheer en hoe om konflik op ’n volwasse manier te hanteer.
Bronne: NHS Inform, Verywell Mind, Reach Out





