GAUTENG. – Nxinxi Tshabalala (30), ’n Zimbabwiese burger, is in die Booysens-landdroshof aan kaping, roof, ontvoering en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie skuldig bevind. Hy is ‘n vonnis van altesaam 50 jaar tronkstraf opgelê.
Phindi Mjonondwane, NVG-woordvoerder, sê die voorval het op 25 Oktober 2023 gebeur toe Tshabalala die klaer met ’n vuurwapen gedwing het om huis toe te ry en die man, vrou, ‘n 16-jarige seun, ’n 12-jarige seun en ’n vierjarige dogter as gyselaars aangehou het. Die hof het gehoor dat die beskuldigde die vuurwapen op die vierjarige kind gerig en geld geëis het. Toe hy gesê is dat daar geen geld is nie, het hy vier selfone gesteel.
Die klaer is ná die rooftog na ’n nabygeleë winkel om sy selfoon te probeer opspoor. Met behulp van die polisie is die selfone tot by ’n adres nagespoor waar Tshabalala in besit van die gesteelde items aangetref is.
Sers. Billy Letsoalo van die Johannesburgse trio-misdaadeenheid het die ondersoek gelei. Licel Hlungwane, die streekhofaanklaer, het vir ’n streng vonnis gepleit as afskrikmiddel vir soortgelyke misdade, terwyl die verdediging versoek het vir versagtende omstandighede op grond van die beskuldigde se persoonlike agtergrond. Die hof het uiteindelik die volgende vonnisse opgelê: 20 jaar vir roof, 10 jaar vir ontvoering, 15 jaar vir die besit van ’n vuurwapen en vyf jaar vir die besit van ammunisie.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





