KWAZULU-NATAL. – ’n Seun (10) word vandag (Vrydag) na ’n spesialisfasiliteit vervoer nadat ’n malvalekker Woensdag by ’n naskoolsentrum in Vryheid in sy lugweg vasgesit het.
Craig Botha van KwaZulu Private Ambulance, sê ’n onderwyser het Woensdag omstreeks 14:00 opgemerk dat die seun sukkel om asem te haal. Personeel het die ambulansdiens ontbied terwyl daar probeer is om die malvalekker los te kry. Toe die seun sy bewussyn verloor, het die onderwyser dadelik met kardiopulmonêre resussitasie (KPR) begin. Paramedici het binne minute opgedaag en gevorderde lewensondersteuning toegepas. Nadat die kind se hart weer begin klop het, is hy na ’n nabygeleë hospitaal geneem om hom te stabiliseer.
Botha sê ’n gespesialiseerde mediese span gebruik intensiewesorgtoerusting vir die oorplasing, wat na verwagting sowat vier uur sal duur. Die ambulansdiens se oproepsentrum sal die rit deurgaans monitor. Botha moedig mense aan om noodhulp- of KPR-opleiding te ondergaan. Die betrokke onderwyser het opleiding van twee jaar tevore tydens die voorval toegepas.