Brekende Nuus
Nuus

14-jarige skiet glo huishulp met oom se haelgeweer

Foto: Ter illustrasie

MPUMALANGA. – ’n 14-jarige seun is Saterdag in hegtenis geneem nadat hy omstreeks 05:50 na bewering ’n 51-jarige huishulp op ’n plaas in Barberton met sy oom se haelgeweer doodgeskiet het. Die seun staan tereg op ’n aanklag van moord en is in sy ouers se sorg vrygelaat.

Kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê die vrou het glo in ’n buitekamer geslaap toe die tiener aan die deur geklop het. Hy het haar na bewering geskiet toe sy die deur oopmaak. Die seun het glo self die polisie van die voorval in kennis gestel. Polisiebeamptes en nooddienspersoneel is na die plaas, waar die vrou op die toneel dood verklaar is.

Die polisie het beslag gelê op die haelgeweer wat vermoedelik in die voorval gebruik is. ’n Saak van nalatige hantering van ’n vuurwapen is teen die seun se oom, wat glo die eienaar van die geweer is, geopen. Die motief vir die skietery is nog onbekend. Lt.genl. Apaphia Modise, provinsiale polisiekommissaris, het vuurwapeneienaars daaraan herinner dat hulle hul wapens volgens wet moet beveilig.