GAUTENG. – Die Gautengse departement van gemeenskapsveiligheid het Sondag aangekondig dat hy ’n ondersoek ingestel het nadat ’n video waarin ’n verkeersbeampte na bewering omkoopgeld van ’n motoris aanvaar, op sosiale media versprei het.
Ofentse Morwane, woordvoerder van die departement, sê ’n voorlopige ondersoek het vasgestel dat die voorval vroeër plaasgevind het. Die beampte is aan die snelwegpatrollie-eenheid verbonde en is reeds ’n paar maande met kraamverlof. Die departement sal die uitslag bekend maak sodra die ondersoek afgehandel is. Enige dissiplinêre optrede sal ingevolge die staatsdiens se dissiplinêre kode geskied.
Die departement sê hy het onlangs lyfkameras aan Gautengse verkeersbeamptes uitgereik om hul interaksies met die publiek op te neem. Hy verskerp ook toesig om te verseker dat beamptes die kameras aan diens dra en gebruik. Die publiek kan vermoedelike korrupsie of wangedrag by die teenkorrupsieblitslyn by 0800 701 071 of die Gautengse provinsiale blitslyn by 0800 228 827 aanmeld.