14 sterf toe minibustaxi en sportnutsvoertuig bots

Lees ook :

Foto: Arrive Alive

OOS-KAAP. – Ses insittendes van ‘n sportnutsvoertuig en agt in ‘n minibustaxi het Maandagoggend omstreeks 05:30 op die N9 tussen Graaff-Reinet en Middelburg gesterf.

Die padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) ondersoek die oorsaak van die ongeluk, waartydens ‘n Toyota Quantum-minibustaxi glo trompop met ‘n Hyundai Creta-sportnutsvoertuig gebots het. Nog 11 insittendes is na nabygeleë hospitale vervoer. Daar is vasgestel die sportnutsvoertuig was van Middelburg na Graaff-Reinet op pad en die minibustaxi het in die teenoorgestelde rigting gereis toe die ongeluk gebeur het.

Motoriste word gemaan om versigtig te wees op lang reise, en om nie selfoonboodskappe te lees as hulle bestuur nie, die selfoon of vermaaksisteme te gebruik, of te drink en bestuur nie.

Sedert 1 Desember is ongeveer 766 dronkbestuurders gearresteer en amper 100 000 verkeersboetes is uitgereik. Ongeveer 2 397 openbare voertuie is vir die oortreding van gebruikerspermitte geskut.

Collen Msibi, woordvoerder vir die nasionale departement van vervoer, sê die ongeluk het ongeveer 30 km van Graaff-Reinet plaasgevind en word deur ‘n span van die RTMC, wat ongeluksrekonstruksie doen, ondersoek.

Msibi sê Barbara Creecy, die minister van vervoer, en Mkhuleko Hlengwa, die adjunkminister van vervoer, het boodskappe van medelye aan die families van die oorledenes gestuur.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief