MPUMALANGA. – ‘n 16-jarige meisie is op 14 Augustus tot 18 jaar tronkstraf vir die moord op Grace Tebogo Sebothoma (64) in die Middelburg-hooggeregshof gevonnis.
Kol. Donald Mdhluli sê die misdaad is in Augustus 2023 in die Loding-woonbuurt naby Vaalbank gepleeg toe Sebothoma ‘n tragiese dood gesterf het. Sebothoma is verskeie kere gesteek en van haar persoonlike besittings beroof.
Mdhluli sê die tienermeisie is ‘n verdere 10 jaar vir roof met verswarende omstandighede gevonnis. Die twee vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.
Dr. Zeph Mkhwanazi, die waarnemende provinsiale kommissaris in die provinsie, sê: “Ons hoop hierdie vonnis sal ‘n sterk boodskap aan jongmense wat misdaad pleeg, stuur. Dat hulle die gevolge sal moet dra. Neem kennis dat een van ons strategieë binne die SAPD die Youth Crime Prevention Desk is, wat gestig is as ‘n platform vir jongmense om bymekaar te kom en betrokke te raak by kwessies wat hulle raak. Ons moedig jongmense aan om betrokke te raak by die bekamping van misdaad, en om nie diegene te wees wat die misdaad pleeg nie.”





