Brekende Nuus
Afrikaans

17 Gauteng-skole deursoek in stryd teen dwelms en wapens

Foto: GDO

GAUTENG. – Altesaam 17 skole in Gauteng is tot dusver deur die polisie deursoek as deel van operasies om dwelms, wapens en ander verbode items uit skole te verwyder.

Onwabile Lubhelwana, LUR-woordvoerder vir die Gautengse onderwysdepartement, sê vyf skole is Woensdag deursoek, naamlik Hoërskool Baleseng Junior, Hoërskool Tiyelelani, Hoërskool Ngaka Maseko, Hoërskool Holy Trinity en Hoërskool FR Smangaliso Mkhathwa. Tydens die jongste deursoekings is onder meer nyaope, aborsiepille en ’n groot hoeveelheid dagga gevind.

’n Meisieleerling is met ’n aansienlike hoeveelheid dagga gevind, wat die vermoede laat ontstaan het dat dit moontlik vir verspreiding bedoel was. In ’n afsonderlike voorval is klein pakkies dagga by ’n leerling aangetref. Volgens die departement het die leerling glo erken dat ’n plaaslike dwelmhandelaar hom gewerf het om die dagga te verkoop. Die deursoekingsoperasies vorm deel van breër skoolveiligheidsmaatreëls wat met die It Takes a Village to Raise a Child-program verband hou.

Lebogang Maile, die provinsiale LUR vir onderwys, sport, kuns, kultuur en ontspanning, sê kinders moenie vir kriminele aktiwiteite gebruik word nie. Die deursoekings sal voortgaan om veiligheid en dissipline by skole te versterk en te voorkom dat dwelms, gevaarlike wapens en ander verbode items skole binnekom.