GAUTENG. – Twee mense is Sondag in die Koedoespoort-gebied in Pretoria-Oos dood nadat hulle vermoedelik koolstofmonoksiedvergiftiging opgedoen het.
Volgens die Volunteer Emergency Medical Response Unit (VEMRU) is nooddienste kort ná 11:00 na ‘n woning ontbied, waar die twee persone klaarblyklik reeds oorlede was. Met hul aankoms is vasgestel dat albei vermoedelik aan koolstofmonoksiedvergiftiging beswyk het nadat ‘n vuur in die woonplek gemaak is sonder voldoende ventilasie.
Die twee persone is op die toneel dood verklaar. Die toneel is vir verdere ondersoek aan die polisie oorhandig. Volunteer Emergency Medical Response Unit het sy innige meegevoel met die familie en geliefdes van die oorledenes uitgespreek en CSI Security asook die SAPD vir hul bystand bedank.





