VRYSTAAT. – Twee mans is Maandagoggend kort ná ’n gewelddadige huisroof in Hertzogville in hegtenis geneem. ‘n Huisbewoner is tydens die insident deur ‘n skietwond beseer.
Sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, sê die voorval het in die vroeë oggendure plaasgevind toe verdagtes glo ’n huis binnegegaan het, ’n inwoner geskiet en met kontant en ’n Isuzu KB-bakkie op die vlug geslaan het. ’n Silwerkleurige motor is na bewering as wegkommotor gebruik.
Die Bloemfontein-blitspatrollie en Boshof-polisie het onmiddellik begin soek en die gesteelde bakkie langs die R700, buite Bultfontein, opgespoor waar dit verlate gelos is. Boshof-polisiebeamptes het die voertuig bewaar en kort daarna is ’n silwer VW Polo, wat ooreenstem met die beskrywing van die wegkommotor, opgemerk en met die hulp van die blitspatrollie agternagesit. Die voertuig is tussen Bultfontein en Soutpan tot stilstand gedwing waartydens die eerste verdagte, ’n 37-jarige man, in die voertuig met kontant in sy besit aangekeer is. Later is nog ’n man, 40 jaar oud, wat langs die pad ryloop, opgemerk en vasgetrek nadat hy probeer wegkom het.
Die polisie het op albei voertuie en die kontant beslag gelê. Die twee mans sal na verwagting op aanklagte van huisroof, poging tot moord en die besit van gesteelde goedere in die hof verskyn, terwyl ondersoeke voortgaan.





