Video-opname in berig.
KWAZULU-NATAL. – Altesaam 21 leerlinge is vanoggend (Dinsdag) tussen 07:30 en 08:00 tydens afsonderlike ongelukke in oggendspitsverkeer in dié provinsie beseer, waarna KwaZulu Private Amulance Service omgesien het.
Boonop is daar volgens die departement van vervoer in dié provinsie altesaam 26 leerlinge, van wie die jongste net drie jaar oud is, in Park Rynie uit ’n oorlaaide en onpadwaardige minibustaxi gehaal. Die kinders kan nie in die video hier onder geïdentifiseer word nie.
Craig Botha, woordvoerder van KwaZulu Private Ambulance Service, sê hul spanne het ‘n besonderse besige oggend gehad. In Newcastle en Pietermaritzburg was ’n bus en ’n minibustaxi in twee afsonderlike voorvalle in ongelukke met leerlinge. In Newcastle het ’n bus met sowat 30 passasiers op die P483 naby die Karbochem-afdraai beheer verloor en in ’n sloot beland. Drie leerlinge het ernstige beserings opgedoen, insluitend moontlike ruggraatbeserings en frakture, terwyl sewe ander lig beseer is. Nooddienste en verkeersowerhede was op die toneel, en verkeer is vir meer as ’n uur ontwrig.
Kort daarna het ’n tweede ongeluk in Pietermaritzburg plaasgevind toe ’n minibustaxi in Khanweg beheer verloor, teen ’n muur gebots en omgeslaan het. Een leerling is ernstig beseer, terwyl tien ander lig beseer is of skok opgedoen het. Al die beseerdes is op die toneel behandel en daarna na nabygeleë hospitale vervoer. Botha sê voorts owerhede ondersoek die oorsake van albei ongelukke.
Siboniso Duma, KZN se LUR vir vervoer en menslike nedersettings, sê in die Park Rynie-voorval was die minibustaxi oorlaai en het onpadwaardige bande gehad, wat die kinders se lewens ernstig in gevaar gestel het. Hy het sy ontsteltenis uitgespreek oor die onverantwoordelike optrede. Die padverkeersinspektoraat het ingegryp en die taxi onmiddellik van die pad verwyder. Die bestuurder is aangekla omdat hy 26 passasiers vervoer het, terwyl die voertuig slegs vir 14 mense gelisensieer is.
Volgens Duma het die #NenzaniLaEzweni-veldtog reeds gehelp om padongelukke en sterftes tydens die feesseisoen en Paasnaweek te verminder. Hy sê wetstoepassingspanne sal voortgaan om streng teen roekelose bestuurders op te tree.





