WES-KAAP. – Die polisie het ’n soektog van stapel gestuur nadat onbekende skieters drie mans tussen 40 en 45 jaar oud Dinsdagaand by die GB Mall doodgeskiet het.
Luidens ‘n verklaring van brig. Novela Potelwa dui voorlopige inligting aan dat die slagoffers omstreeks 21:30 in die winkelsentrum se parkeerterrein gestaan het, toe verdagtes in ’n voertuig hulle genader en op hulle losgebrand het. Twee van die mans is in die voertuig dood aangetref, terwyl die derde buite die motor doodgeskiet is. Die verdagtes het daarna in hul voertuig van die toneel gevlug.
‘n Saak met drie aanklagte van moord word deur die Gordonsbaai-polisie ondersoek. Die voorval word vermoedelik met bendeverwante aktiwiteite verbind. Geen inhegtenisnemings is nog gemaak nie.
Intussen het KC Gericke van Strand Patrol Buurtwag en NHW Helderberg kort ná die voorval op sosiale media bevestig dat daar ’n aktiewe misdaadtoneel was, met owerhede op die toneel en drie slagoffers wat kritiek beseer is. Die publiek is versoek om die area te vermy.
Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, word versoek om met die polisie in verbinding te tree.





