WES-KAAP. – Twee jong kinders, ’n seuntjie en ’n dogtertjie van vermoedelik ongeveer twee jaar oud, is Vrydagaand (6 November) veilig met hul ouers in Gugulethu herenig nadat hulle alleen in die NY111-omgewing aangetref is. Die vinnige optrede van twee polisiereserviste en ’n gekoördineerde soektog het daartoe gelei dat die kinders se ouers opgespoor is.
Lt.kol. Frederick C. van Wyk, polisiewoordvoerder, sê sers. Ruban Ngoxaza en sers. Athenkosa Dyanti is omstreeks 18:20 ontbied. Hulle het die kinders se veiligheid verseker en hulle na die Gugulethu-polisiekantoor geneem. ’n Soektog is daarna van stapel gestuur waartydens lede van die misdaadvoorkomingseenheid en ander polisiebeamptes gemobiliseer is. Polisielede het patrollies in die informele woongebiede van Kanana, Europe en Barcelona uitgevoer en van noodligte en openbare aankondigingstelsels gebruik gemaak om die ouers te soek. Die soektog was suksesvol en die kinders is veilig met hul ouers herenig.
Polisiebestuur het die twee reserviste geloof vir hul flink optrede, spanwerk en toewyding aan gemeenskapsdiens. Die voorval beklemtoon ook hoe belangrik dit is om kinders se veiligheid en beskerming in gemeenskappe te prioritiseer.
Suid-Afrika het Saterdag Nasionale Kinderdag gevier. Die Suid-Afrikaanse regering het die eerste Saterdag van November as Nasionale Kinderdag aangewys om die aandag te vestig op die bevordering en beskerming van kinderregte. Elke kind het onder meer die reg op onderwys, beskerming, ontwikkeling, deelname, gelykheid en goeie gesondheid en welstand.