NOORDWES. – Drie minderjarige seuns, tussen 16 en 17 jaar oud, het Vrydag in verband met ’n beweerde inbraak by ‘n hoërskool in Mooinooi in die Brits-landdroshof verskyn.
Luidens ‘n verklaring deur polisiewoordvoerder, konst. Thuto Bobelo, is ’n inbraak, waartydens items ter waarde van meer as R100 000 gesteel is, op 19 Desember 2025 by die skool aangemeld.
Ná ’n wenk oor iemand wat glo gesteelde goedere verkoop, het die polisie opvolgondersoeke gedoen en operasionele stappe ingestel om die verdagtes op te spoor. Woensdag het polisiebeamptes die verdagtes se onderskeie huise deursoek. By al drie die huise is vermoedelik gesteelde items gevind. By die eerste verdagte is items onder sy bed versteek gevind, by die tweede in ’n wasgoedmandjie en by die derde in ’n sak.
Van die items wat teruggevind is, sluit tablette, skootrekenaars, laaiers, sakrekenaars en rekenaarskerms in.
Die minderjariges staan tereg op aanklagte van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom en ‘n sake-inbraak. Hulle bly onder toesig van hul ouers of voogde. Die saak is tot Maandag uitgestel.





