Meer foto’s in berig.
KWAZULU-NATAL. – Drie verdagtes is Woensdagmiddag (14 Oktober) tydens ’n skietgeveg met die polisie en private veiligheidswagte in Umlazi doodgeskiet. Die verdagtes het na bewering ’n kontant-in-transito-voertuig op die Suidkuspad beroof.
Hulle het glo die voertuig tot stilstand gedwing, die veiligheidswagte met vuurwapens aangehou en hulle ontwapen voordat hulle met ’n onbekende bedrag geld op die vlug geslaan het. Volgens polisiewoordvoerder, kol. Robert Netshiunda, is die polisie en private veiligheidswagte na die toneel, waarna ’n skietgeveg ontstaan het.
Aanvanklik is berig dat vier verdagtes doodgeskiet is, maar die polisie het later bevestig dat drie tydens die skietgeveg dood is. Drie gewere en ammunisie is by hulle gevind. Ander verdagtes het daarin geslaag om te vlug en het enkele kilometers van die toneel af hul bloedbevlekte wegkomvoertuig agtergelaat voordat hulle ’n ander voertuig gekaap het. ’n Vuurwapen en ’n onbekende bedrag geld is in die verlate voertuig gevind.
Netshiunda bevestig geen polisiebeamptes is beseer nie, maar twee veiligheidswagte is beseer en ontvang mediese behandeling. ’n Soektog na die verdagtes wat weggekom het, duur voort.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê dié diens het omstreeks 17:50 oproepe ontvang van ‘n transitorooftog, waartydens ‘n kontantvoertuig glo verskeie kere met bomme geskiet is. Paramedici het gewag totdat polisiebeamptes die toneel beveilig het, voordat hulle twee veiligheidswagte met beserings behandel het. Terwyl daar met die behandeling besig was, is ‘n oproep ontvang dat verdagtes ook geskiet is. Jamieson het bevestig dat drie mans, vermoedelik in hulle 20’s, noodlottige skietwonde opgedoen het.



