Brekende Nuus
Nuus

3 vroue by lodge uit kloue van vermeende sindikaat gered

Foto: Ter illustrasie

OOS-KAAP. – Drie Peruaanse vroue is Vrydag tydens ’n gesamentlike polisie-operasie by ’n lodge in Bluewater Bay gered, nadat hulle na bewering onder valse voorwendsels na Suid-Afrika gelok is om by ’n aanlyn inbelsentrum te werk. 26 mense – 14 Peruaanse vroue en 12 mans -is by die lodge aangetref. Die mans het twee Suid-Afrikaanse burgers ingesluit, wat na bewering as drywers gewerk het en twee Chinese burgers wat as huurders van die perseel geïdentifiseer is.

Die ondersoek moet nog bepaal wat elkeen se rol was en of hulle by enige misdaad betrokke was. Bewerings van mensehandel, bedrieglike werwing, immigrasie-oortredings en kubermisdaad word deur die Valke ondersoek nadat inligting deur die nasionale mensehandelhulplyn ontvang is. 

Die aanvanklike ondersoek het ontstaan toe ‘n 18-jarige vrou ontdek het die aktiwiteite by die perseel verskil glo heeltemal van die werk wat aan haar belowe is. AO Ndiphiwe Mhlakuvana, Valke-woordvoerder, sê ‘n operasie is in opvolging van inligting deur die Valke en die departement van binnelandse sake se immigrasiebeamptes uitgevoer nadat die Peruaanse regering gewaarsku het oor die 18-jarige wat op 2 Oktober by OR Tambo Internasionale Lughawe aangekom en die volgende dag na Gqeberha vervoer is. Sy het na bewering met haar pa in Peru kontak gemaak en inligting verskaf wat die owerhede gehelp het om die perseel op te spoor. 

Volgens Mhlakuvana het die span Vrydag omstreeks 17:00 by die lodge aangekom. Die drie vroue is na ’n veilige plek geneem en sal verdere hulp en ondersteuning kry. Elektroniese toerusting, waaronder skootrekenaars, rekenaars en selfone, is vir forensiese ondersoek in beslag geneem. Die ander 23 mense is na verskillende polisiekantore geneem, hangende verdere ondersoek.

Die Valke sê geen inhegtenisnemings is nog gemaak nie en die ondersoek duur voort. Brig. Romeo Petrus, waarnemende provinsiale hoof van die Valke in die Oos-Kaap, het die nasionale mensehandelhulplyn en die gesamentlike span geloof vir hul optrede om die vroue te help.