WES-KAAP. – Qadier Boer (4) is Woensdagmiddag omstreeks 14:30 in Moray Court, Hanover Park, deur ‘n dwaalkoeël getref, toe daar vermoedelik deur bendes in die openbaar geskiet is. Die kleuterseun het vanoggend vroeg aan die skietwond gesterf.
Kol. André Traut, polisiewoordvoerder, het aan Nuusflits bevestig die kleuter is vanoggend net na 02:00 oorlede en sê die dossier is na moord verander. In ‘n vorige verklaring het Traut gesê die slagoffer is vir behandeling na ‘n mediese fasiliteit geneem. Twee 17-jarige verdagtes is kort ná die voorval in hegtenis geneem. Die tieners is tans in aanhouding en sal in die hof verskyn sodra hulle formeel aangekla is. Polisiebestuur het die roekelose en genadelose optrede van misdadigers wat onskuldige lewens in gevaar stel, skerp veroordeel.
Die polisie het sy verbintenis om bendegeweld uit te roei en die mees kwesbare lede van die gemeenskap te beskerm, herbevestig. Brandpunte word steeds geïdentifiseer en dienste word uitgevoer om diegene wat geweld bevorder en geen respek vir menslike lewe toon nie, tot verantwoording te bring. Die polisie doen ’n beroep op die gemeenskap om nou saam te werk met wetstoepassers deur inligting te deel wat kan help om die skuldiges aan hierdie sinnelose daad voor die gereg te bring.





