MPUMALANGA. – Zjanique van Niekerk (5) is Donderdagaand uit die hospitaal ontslaan en sterk tuis aan nadat sy ernstig beseer is toe ‘n perd oor haar gehardloop het. Sy het onder meer haar kakebeen, verhemelte en arm gebreek en is ná die voorval vir dringende mediese behandeling na Nelspruit vervoer.
“Ons is net dankbaar ons kind leef en ons wil graag in hierdie hele storie hoe dit ookal orals uitkom, al die eer en die lof aan die Here gee vir Sy genade, vir Sy grootheid vir Sy goedheid en die feit dat Hy vir ons nog ‘n geleentheid gee, nog ‘n kans met ons dogtertjie, dat sy nog met ons mag wees.”
Zjacques van Niekerk, Zjanique se pappa, sê aan Nuusflits die voorval het Maandag gebeur en dat Zjanique se 13-jarige boetie tydens die voorval op die perd was. Hy vertel dat dit onder omstandighede goed gaan. Die dapper meisie het reeds drie operasies aan haar gesig en haar gebreekte arm ondergaan. Zjacques sê hulle het groot geskrik. Dit is ‘n gebeurtenis wat Zjanique se ouers – Zjacques en Rolfina – nooit weer oor wil hê nie.
As ‘n mens luister na ander ooggetuies wat die ongeluk aanskou en beleef het, soos die boetie op die perd, sussie langs die pad en ‘n vriendin met ‘n motorvoertuig agter hulle, besef ‘n mens hoe groot die Here se genade was, sê Zjacques. Die perd se hoef het Zjanique se lyfie aan die linkerkant rakelings getref. Genadiglik is net ‘n krapmerk gelaat, maar haar arm is afgetrap. Zjacques glo indien haar lyfie getrap was, hulle ‘n begrafnis sou hê, maar nou het hulle ‘n getuienis om te deel.
Omdat Zjanique se kakebeen aan die bokant gebreek het en daar drade aan die binnekant is, kan sy net sagte kos deur ‘n groot spuit gevoer word. Boeta, wat op die perd was, se hart is gebroke, maar as gesin bid hulle saam met hom en hy ondergaan reeds berading by hulle dominee om te besef dat ‘n ongeluk met enigiemand kan gebeur. Buiten Zjanique se 13-jarige boetie, het hulle nog ‘n 16-jarige ouboet en ‘n 6-jarige sussie.
Volgens Liezel Victor op ‘n BackaBuddy-profiel is R200 000 beoog vir mediese onkostes. Meer as R260 000 is binne vier dae ingesamel. Die geld sal onder meer vir ambulansvervoer, hospitaal- en mediese koste en operasies aangewend word.
