NOORD-KAAP. – ’n Reddingsoperasie is by die Ekapa-diamantmyn, naby Kimberley, aan die gang nadat vyf mynwerkers vroegoggend ná ‘n grondverskuiwing ondergronds vasgekeer is.
Volgens berigte vam SABC News, IOL en East Coast Radio het die grondverskuiwing en gepaardgaande modderstorting ’n tonnel, sowat 890 meter onder die oppervlak, versper. Kommunikasie met die mynwerkers is na bewering verbreek. Noodspanne en mynreddingspanne werk om toegang tot die betrokke gedeelte van die skag te verkry.
Die myn se bestuur het bevestig dat reddingspogings voortduur en dat die veiligheid van werknemers die hoogste prioriteit bly. Families van die vasgekeerdes is in kennis gestel.
Die voorval het groot kommer in die gemeenskap ontlok, terwyl reddingswerkers probeer om modder en puin te verwyder om by die mynwerkers uit te kom.
Bronne: SABC News, SABC News, IOL, East Coast Radio





