Brekende Nuus
Nuus

7 op borg vrygelaat wat glo afgesnyde elektrisiteit weer aansit

Foto: NVG

GAUTENG. – Sewe beskuldigdes wat aangekla word in verband met ’n beweerde multimiljoenrand-elektrisiteitsbedrogskema by die Emfuleni- plaaslike munisipaliteit, is Maandag elk op borgtog van R20 000 in die Vanderbijlpark-landdroshof vrygelaat. Die agtste beskuldigde, Janitha Van Reenen Coetzee (25), se borgtoguitspraak is op 18 September.

Lumka Mahanjana, NVG-woordvoerder, sê David Seneekal (31), Caroline Smangele Maduna (39), Kenneth Zongezile Mahobe (35), Hlawutelo Baloyi (29), Pule Meshack Masilo (36), Andries Bafana Maduna (48) en Sibusiso Patrick Tshabalala (46) staan tereg op aanklagte van onder meer bedrog, diefstal, geldwassery en peutery met noodsaaklike infrastruktuur.

Die staat beweer die beskuldigdes het inwoners en sake-eienaars wie se elektrisiteit weens agterstallige rekeninge afgesny is, genader en betaling gevra om dit weer aan te sluit. Hulle het die elektrisiteit na bewering onwettig heraangesluit en munisipale rekords gemanipuleer. Die beskuldigdes is op 21 Augustus in hegtenis geneem. Borgtog is deur die staat teengestaan, maar die hof het bevind hul vrylating is in die belang van geregtigheid.

Die beskuldigdes moet onder meer twee keer per week by die Vanderbijlpark-polisiestasie aanmeld, mag nie die land verlaat nie en mag nie met getuies of die ondersoek inmeng nie.