OOS-KAAP. – Nege verdagtes en twee sake-entiteite se hofverskyning in die water- en sanitasiemateriaal-saak van die Alfred Nzo-distriksmunisipaliteit, is deur die spesiale ondersoekeenheid (SOE) verwelkom. Dit hou verband met ‘n R75 miljoen-kontrak wat nie volgens die reëls goedgekeur is nie,
Die SOE sê in ‘n verklaring Monalitho Muba, Xola Bomela, Mcebisi Rudolf Mlonzi, Bambangazibini Tabata, Xolani Masiza, Paul Mahlasela, Zuko Mani, Clive Else en Shawn Govender het Maandag in die EmaXesibeni-landdroshof (Mount Ayliff) verskyn. Hulle word aangekla van bedrog, korrupsie, geldwassery en oortreding van die wet op munisipale finansiële bestuur.
Die kontrak het onder meer ses vragmotors, ses watertenkwaens en drie vakuumtenkwaens vir water- en sanitasiersorg, asook infrastruktuurondersteuning, ingesluit. Die ondersoek het bevind dat die munisipaliteit sonder begrotingsgoedkeuring R75 miljoen aan Kwane Capital (Pty) Ltd betaal het.
Kwane Capital het voertuie verkeerd voorgestel, die naam van Avis Fleet misbruik en die munisipaliteit tot ongeldige en onwettige kontrakte gelei. Daar is ook vals sertifikate uitgereik, terwyl GPS-data getoon het dat die voertuie nooit by toetsstasies was nie. ’n Verlies van sowat R60,7 miljoen is deur die munisipaliteit gely.
Die nege verdagtes is elk op borgtog van R10 000 vrygelaat. Die Spesiale Ondersoekeenheid het ook ’n siviele aksie ingestel om die kontrak te hersien en verliese terug te kry. Alle bewyse van moontlike misdade is aan die nasionale vervolgingsgesag vir verdere optrede verwys.
Druk hier om meer te lees.





