LEES OOK: Tshwane en Ekurhuleni skuld Eskom R4,7 miljard
Vyf studente van die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap sal na verwagting Maandag in die Alice-landdroshof verskyn.
Oos-Kaapse polisiewoordvoerder, off. Majola Nkohli, het bevestig die vyf is in hegtenis geneem vir hul beweerde betrokkenheid by die moord op ‘n medestudent Saterdag by die instelling. “Die oorledene was ‘n 21-jarige manstudent by die instelling. Die omstandighede rondom die voorval vorm deel van die ondersoek,” het hy gesê. Die verdagtes is tussen 22 en 25 jaar oud.
JP Roodt, woordvoerder vir UFH, het die student se dood bevestig wat Saterdag omstreeks 03:20 plaasgevind het. Die oorlede student was in sy derde jaar by die Universiteit van Fort Hare toe hy oor ‘n vermiste skootrekenaar doodgesteek is. Die 21-jarige het aan sy beserings beswyk nadat hy met die vuis geslaan en gesteek is.
Roodt het gesê uit die aanvanklike ondersoekverslag het getuies aangedui dat ‘n woordewisseling by die Disco-nagklub op Alice begin het en toe na die kampus beweeg het. “’n Volledige universiteitsondersoek is aan die gang en sal later vandag aan die universiteit se senior bestuur voorgelê word. Die instansie het Saterdagmiddag ’n saak by die Alice-polisiekantoor geopen.”
Hy sê die polisie het vinnig gereageer en vyf verdagtes in hegtenis geneem. Hy het gesê indien verdagtes geregistreerde UFH-studente is, sal die instelling maatreëls vir skorsing aan hulle uitreik voor hul formele dissiplinêre verhore. “Dit beteken hulle sal ook gevra word om die kampus en hul koshuise met onmiddellike effek te ontruim. Gister Sondag het ‘n UFH-afvaardiging die naasbestaandes van ons oorlede student ontmoet en ingelig. Die universiteit se studenteberadingseenheid bied psigososiale ondersteuning aan studente en personeel. Meer inligting sal gedeel word soos meer besonderhede oor die volgende paar dae beskikbaar word,” het hy gesê.
#Studente #FortHare #Universiteit #Moord #Nuus





