Was jy al ooit in ‘n situasie waar jy iemand van iets probeer oortuig, maar hulle wil nie luister nie? Dis eintlik ‘n dom vraag, want natuurlik het ons almal ervaring daarvan.
LEES MEER: Hoe sien jy jouself?
Jy wil dalk jou huweliksmaat oortuig van ‘n belangrike besluit oor julle toekoms, of ‘n werkskollega van hoe om iets meer effektief te implementeer. Of dalk iemand oortuig rakende ‘n geestelike waarheid. Gewoonlik as jy iemand se siening oor ‘n onderwerp wil verander, gaan dit nie so goed nie, want wie van ons wil tog hoor dat ons nog altyd verkeerd gedink of geglo het oor die saak?
En hier kom ‘n goeie beginsel tot jou redding! Daar word gesê: “Dit wat jy saai, sal jy maai.”
Dis nie altyd nodig om iemand in ‘n enkele gesprek te oortuig nie, want hoe meer jy druk, hoe meer hardkoppig sal die persoon raak en stywer aan hul standpunt vashou. Dis hoekom jy eerder net ‘n saadjie plant, en dit los.
Die wonderlike ding van daardie saadjie, indien dit reg met wysheid en ‘n positiewe houding geplant is, is dat dit lekker diep sal wortel skiet in daai persoon se gedagtes en dit later oordink sal word.
Iemand by die werk kan jou dalk verkeerd behandel, en jy besluit om vir hom of haar te sê dat dit nie reg is nie. Tien teen een sal dit die persoon op die verdediging sit oor hoekom dit gebeur het. Dis dan die tyd om dit te los en aan te beweeg en nie toe te laat dat dit in ‘n argument ontaard nie. Die kans is goed die persoon sal met julle volgende gesprek om verskoning vra. En indien nie, sal daar weer ‘n geleentheid wees om nog ‘n saadjie te plant.
Mag jy hierdie beginsel voorkant toe gebruik, en sien hoe merkwaardig effektief dit werk.





