KWAZULU-NATAL. – ‘n Aap het Donderdagoggend ‘n paniekknoppie van ‘n huis in Northdale gesteel en geaktiveer.
Mi7 National Group sê dié diens se operasionele sentrum het verskeie paniekknoppie-aktiverings van ‘n kliënt ontvang. Verskeie eenhede is vir hulp aan hulle kliënt na die huis. Met aankoms op die toneel het die kliënt die beamptes ingelig ‘n aap het in die huis ingekom en die afstandbeheer met die paniekknoppie gesteel. Die aap, wat intussen gevlug het, het die knoppie verskeie kere gedruk en die sein het eers opgehou toe die aap buite bereik van die ontvangstoestel was.
Dié diens sê die klein klits het met sy gesteelde item weggekom en die kliënt sal met ‘n nuwe afstandbeheer-paniekknoppie toegerus word.





