VRYSTAAT. – ‘n 85-jarige man is gearresteer kort na ‘n insident waartydens ‘n 56-jarige man ‘n skietwond in die nek opgedoen het. Die slagoffer, wat intussen oorlede is, is op Facebook as Erich Bruhns bekend.
Sers. Mahlomola Kareli sê die Bainsvlei-polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord na die skietvoorval Saterdagoggend (19 April) by ’n woning. Sers. Kareli het intussen aan Nuusflits bevestig die slagoffer is oorlede. Die poging-tot-moord-saak sal na alle waarskynlikheid na ‘n moordsaak verander word. Nooddienste, insluitend ER24, was vinnig op die toneel. Die verdagte het probeer vlug en is op die N1 gearresteer, terwyl die slagoffer vir mediese behandeling na ’n nabygeleë hospitaal vervoer is.
Tydens die arrestasie is ’n gelaaide vuurwapen met bykomende ammunisie by die verdagte gekry. Hy is tans in aanhouding terwyl die ondersoek voortduur.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





