Smith en Appolis sou die meeste geld uit verkoop van Joshlin maak

Lees ook :

Foto: Op lêer

WES-KAAP. – Die hooggeregshof het Vrydag ‘n skuldigbevinding gelewer in die saak rondom die verdwyning van die sesjarige Joshlin Smith, wat volgens hofgetuienis vir R20 000 verkoop is. Tot dusver is die kind nog nie opgespoor nie. Tydens die verhoor kon vasgestel word Van Rhyn sou R1 200 kry, Lombaard R1 000 en Smith en Appolis die res van die geld.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê Jacquen Rowhan Appollis, Steveno Dumaizio van Rhyn en Racquel Chantel (Kelly) Smith is aan mensehandel vir die doel van uitbuiting en ontvoering van Joshlin Smith, skuldig bevind. Smith is volgens die hof vir slawerny of praktyke soortgelyk aan slawerny, ingevolge ‘n ooreenkoms tussen die beskuldigdes, verkoop.

Adv. Zelda Swanepoel, adjunkdirekteur van openbare vervolging in die provinsie, het met bystand van die senior staadsadvokaat Aradhana Heeramun die vervolging gelei. Altesaam 32 getuies het gedurende die agt weke van die verhoor getuig. Daar is aangevoer dat die drie beskuldigdes, insluitend die slagoffer se moeder, Kelly Smith, ‘n plan beraam het om Joshlin vir eie voordeel te verkoop. Van Rhyn sou R1 200 ontvang en Lombaard R1 000, terwyl die res van die geld tussen Appollis en Smith verdeel sou word. Verder is aangevoer Lombaard en Van Rhyn sou vir hulle stilswye betaal word en dat die kind vir uitbuiting vir slawerny of soortgelyke praktyke aan die beoogde koper afgelewer is.

Ntabazalila sê regter Nathan Erasmus het beslis die staat het sy saak bo redelike twyfel teen alle beskuldigdes bewys. Die argumente ten gunste van ‘n skuldigbevinding is sterk en oortuigend aangebied. Uitgebreide regsargumente is deur die vervolgingspan ingedien, insluitend verwysings na 12 regsbronne, ‘n elektroniese PowerPoint-aanbieding met ‘n tydlyn van die bewyse, en ‘n breinkaart wat alle ondersteunende bewyse vir die artikel 204-getuie uiteensit.

Adv. Nicolette Bell, die Wes-Kaapse direkteur van openbare vervolging, het die samewerking van die vervolging- en ondersoekspan, wat tot die suksesvolle vervolging van die beskuldigdes gelei het, geprys: “Hierdie saak het die grootste samevoeging van hulpbronne gesien van die polisie, die Stad Kaapstad, die Vloot en die gemeenskap van Saldanha in die soektog na Joshlin Smith. Die Nasionale Vervolgingsgesag eer almal wat aan hierdie pogings deelgeneem het en ek wil ‘n beroep op hulle doen dat ons verantwoordelikheid nie verby is solank Joshlin Smith nog vermis is nie.”

Die saak is voorlopig tot 9 Mei 2025 in die Kaapstad-hooggeregshof uitgestel, waarna die vonnisverrigtinge in Saldanhabaai sal voortgaan.

Die aanklaers het aangevoer dat hierdie saak van groot regsbelang is, aangesien dit die eerste skuldigbevinding aan mensehandel is waarin die slagoffer in die saak – ’n kind – steeds vermis is. In drie ander soortgelyke sake is die slagoffers ongedeerd teruggevind.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief