KWAZULU-NATAL. – ‘n Man en ‘n vrou het Vrydagaand in Freemantleweg in die Hillary-gebied noodlottige skietwonde opgedoen. Nog ‘n man is in die been geskiet.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê paramedici het net na 20:00 op talle oproepe oor ‘n skietvoorval waarin drie persone verskeie geskiet is en in ‘n kritieke toestand was, gereageer. Met aankoms op die toneel was die SAPD, verskeie sekuriteitsmaatskappye en EMRS reeds op die toneel. Drie insittendes van ‘n voertuig – twee mans en ‘n vrou, almal vermoedelik in hul dertigs – het skietwonde opgedoen. ‘n Man en ‘n vrou is op die toneel dood verklaar. Die derde slagoffer se skietwond aan die been is op die toneel behandel voordat hy na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer is.
Die polisie ondersoek die oorsaak van die insident.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





