MPUMALANGA. – Drie verdagtes is Vrydag in Dullstroom op aanklagte van openbare geweld en opsetlike beskadiging van staatseiendom in hegtenis geneem, nadat drie OOP-voertuie tydens ‘n prostesoptog beskadig is.
Lt.kol. Jabu Ndubane en sers. Thulisile Magagula sê in ‘n verklaring lede van Dullstroom-polisie en Middelburg-openbare orde polisiëring (OOP) het die twee verdagtes, onderskeidelik 18 en 34 jaar oud, in hegtenis geneem. Na bewering sit die twee verdagtes agter gemeenskapsprotes van 15 Mei, wat hulle glo aangemoedig en beïnvloed het. Drie polisievoertuie is deur klipgooiery deur die protesteerders beskadig.
Die polisie sê voorts ‘n lid van die gemeenskap (43) het by die polisiestasie aangekom en die polisie in die uitvoering van hul pligte verhinder. Hy het die beamptes gedreig en bevraagteken, omdat slegs twee verdagtes gearresteer is. Volgens hom was meer mense by die oproer en beskadiging betrokke. Die man is vir die verhindering van polisiebeamptes in die uitvoering van hulle pligte gearresteer. Die polisie se ondersoek duur voort om nog verdagtes op te spoor wat klippe na polisievoertuie gegooi het.
Die verdagtes sal na verwagting op aanklagte van openbare geweld, opsetlike saakbeskadiging van staatseiendom en inmenging by polisiepligte in die Belfast-landdroshof verskyn. Meer aanklagte kan moontlik bygevoeg word.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





