LIMPOPO. – ’n Kop-teen-kop-botsing het Maandag omstreeks 12:00 op die R574 in Tafelkop, Elias Motsoaledi-munisipaliteit, in die Sekhukhune-distrik, die lewens van vyf persone geëis. Albei die motorbestuurders het beserings opgedoen.
Die provinsiale departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid sê in ‘n sosialemediaplasing twee sedans het kop teen kop gebots en die lewens van vyf passasiers in een motor geëis. Dit sluit drie volwassenes, ‘n baba en ‘n kind, almal afkomstig uit ’n buurland, in. Albei die bestuurders is na ’n nabygeleë hospitaal vervoer.
Violet Mathye, LUR, het medelye uitgespreek: “Namens die departement wil ek my innige meegevoel aan die families van die oorledenes oordra en ’n vinnige herstel aan die beseerdes toewens. Ek bly bestuurders aanmoedig om geduldig op die pad te wees en versigtig te bestuur om onnodige ongelukke te voorkom.”
Die presiese oorsaak van die ongeluk sal bepaal word sodra die ondersoeke afgehandel is. Volgens die departement bly die prioriteit intussen die ontplooiing van verkeersbeamptes as deel van sigbare polisiëring om padveiligheid te verseker.





