GAUTENG. – ‘n Kind is vanoggend (Woensdag) op ‘n ongelukstoneel op die N4-hoogweg in Bronkhorstspruit dood verklaar, terwyl ‘n ma en nog ‘n kind vir mediese behandeling na ‘n nabygeleë mediese fasiliteit vervoer is. Die nooddienste van die Stad Tshwane was op die toneel van die motorongeluk en kon drie persone suksesvol uit die voertuig bevry.
Luidens ‘n verklaring van Nana Radebe-Kgiba, woordvoerder vir die Stad Tswhane, is die polisie en Tshwane-metropolisie na die toneel. Dit blyk asof beheer oor die voertuig verloor is. Ondersoek word ingestel om die oorsaak van die ongeluk te bepaal. Motoriste word versoek om versigtig te ry.
Die nooddienste moedig inwoners aan om enige brand- of reddingsvoorvalle dadelik by 107 of 012 358 6300/6400 aan te meld en om kalm te bly en die regte adres en kontaknommer te verskaf.





