Lesersbrief: McCarthy moet Broos opvolg

Lees ook :

Met die Afrikabeker-toernooi wat onlangs verby is en die FIFA Sokker-Wêreldbekertoernooi wat vier maande weg is, sal Bafana Bafana ’n nuwe afrigter moet vind na afloop van laasgenoemde toernooi.

LEES OOK: President Ramaphosa bespreek vrede en samewerking met Rusland-president

Hugo Broos, die 73-jarige Belgiese sokkerafrigter van die nasionale span, het reeds aangekondig dat hy ná die 2026 Wêreldbekertoernooi sal uittree. Ek glo dat die gewese Bafana Bafana-ster Benni McCarthy die mees geskikte kandidaat sal wees om by hom oor te neem.

McCarthy het ’n roemryke loopbaan as speler gehad en word deur baie beskou as die beste sokkerspeler wat Suid-Afrika nog opgelewer het. Tydens sy klubloopbaan het hy onder meer vir Ajax Amsterdam, Celta, Porto, Blackburn Rovers, West Ham United en Orlando Pirates uitgedraf. Hier het McCarthy die nasionale ligatitel in Nederland, Portugal en Suid-Afrika as speler gewen, asook verskeie bekerkompetisies in hierdie drie lande. Hy is ook die enigste Suid-Afrikaanse sokkerspeler wat al die UEFA Europese Kampioeneliga gewen het – dit was in 2004 as speler vir Porto.

Op internasionale vlak het McCarthy 79 wedstryde vir Bafana Bafana gespeel en hy hou sedert 2008 ook die rekord vir die meeste doele vir die nasionale span, met 31.

Na sy loopbaan as speler het McCarthy as hulpafrigter by die Europese klubs Hibernian, Sint-Truiden en Manchester United gewerk. In 2018 het hy die MTN 8-beker as hoofafrigter met Cape Town City verower. Tydens die 2020–21 Suid-Afrikaanse Premierliga-seisoen het hy as hoofafrigter vir AmaZulu teen alle verwagting in na die algehele tweede plek gelei. Op 3 Maart 2025 is McCarthy as Kenia se hoofafrigter aangewys en dit is die pos wat hy tans beklee.

McCarthy sal ’n goeie keuse wees om op die goeie werk wat Broos gedoen het, voort te bou en om Bafana Bafana op ’n opwaartse kurwe te hou. Hy het ’n suksesvolle rekord as afrigter en het die nodige ervaring as beide afrigter en voormalige speler in Suid-Afrika, op internasionale vlak en ook in top Europese ligas. Kom ons hoop SAFA gee ’n top Suid-Afrikaanse afrigter soos McCarthy die geleentheid om die nasionale span te brei.

Dié is ‘n lesersbrief deur André van Eck – woonagtig in Worcester.

As jy ‘n lesersbrief wil instuur, stuur aan [email protected].

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief