NOORD-KAAP. – ’n Geregtelike doodsondersoek is geregistreer en word deur Kimberley-speurders ondersoek, nadat die liggame van die oorblywende mynwerkers Sondagoggend en vanoggend (Maandag) uit die Ekapa-myn in Kimberley gehaal is.
Kol. Cherelle Ehlers sê twee liggame is omstreeks 08:30 Sondagoggend ontdek. Die laaste liggame is vanoggend (Maandag) uit die myn gehaal. Die mynwerkers was vasgekeer ná ’n modderstorting op 17 Februarie by die myn. Nuusflits het op 9 Maart berig ‘n liggaam is uit die myn gehaal. Vyf werkers was 890 meter diep in die Du Toitspan-skag vasgekeer en daar is sedert die voorval voortdurend gewerk om hulle te bevry.
Die ondersoek duur voort.




