VRYSTAAT. – Nege polisiebeamptes wat Saterdag in hegtenis geneem is, is deur die Bultfontein-landdroshof op borgtog van R3 000 elk vrygelaat. Hulle word aangekla van vier moorde wat verband hou met ’n voorval in Phahameng gedurende September 2024.
Lizzy Suping, Opod-woordvoerder, sê die beamptes van openbare orde-polisiëring is destyds ontbied na ’n huishoudelike voorval waar familielede glo baklei het. Toe die polisie probeer optree, het die betrokke persone hulself volgens rapportering in die huis toegesluit en die ingange versper. Daar word beweer dat die polisie daarna die huis binnegedring het, waartydens skote geskiet is. Drie familielede en ’n polisielid het in die voorval gesterf. Altesaam 43 leë patroondoppies is op die toneel opgetel.
Die saak is tot 26 Mei uitgestel wanneer die direkteur van openbare vervolging sal besluit waar die verhoor sal plaasvind. Ondersoeke duur steeds voort.





