KWAZULU-NATAL. – ’n Gesamentlike gedenkdiens vir sewe vermoorde familielede sal Sondag 26 April by die sportgrond van Hoërskool Stanger in KwaDukuza plaasvind. Die oorledenes, tussen 20 en 83 jaar oud, is geïdentifiseer as Alan Monswamy, sy vrou Sandy, hul kinders Kraidon en Shamarie, asook familielede Cliffy Padayachee, Mooniamma Padayachee en Mariamma Appanah.
Die gedenkdiens begin om 09:00 en duur tot 12:00, waarna die verassing om 13:30 by die plaaslike krematorium sal volg. Richards Bay Funeral Services hanteer die reëlings.
Soos voorheen deur Nuusflits berig, sê kol. Robert Nethiunda, polisiewoordvoerder, die sewe slagoffers is van Newtown in Newark ontvoer en later in Melmoth vermoor. ’n Huishulp het Woensdagoggend by die woning opgedaag en opgemerk het dat daar ingebreek is en die inwoners vermis word. Verskeie eenhede van die polisie is ontplooi en drie verdagtes is kort daarna in hegtenis geneem. ’n Vuurwapen en verskeie selfone is by hulle gevind.
Ondersoeke dui daarop dat een van die verdagtes by die gesin gewerk het en moontlik saam met ander die huis beroof het. Die slagoffers is glo vasgebind en sowat 200 km weg geneem, waar hulle vermoor is. Daar word ook beweer dat sommige van hulle gedwing is om bankbesonderhede te verskaf voordat geld uit hul rekeninge onttrek is. Die verdagtes het die polisie na die toneel gelei waar die liggame ontdek is.






