OOS-KAAP. – Twee liggame van twee plaaswerkers is Woensdagmidag in ‘n gesamentlike reddingsoperasie uit ‘n verkoelingstenk op ‘n suiwelplaas naby Humansdorp gehaal.
Kapt. Marius McCarthy sê verskeie nooddienste, insluitend die polisie se soek-en-reddingseenheid, saam met plaaslike ambulansdienste en brandweer, is na die toneel ontbied. Konst. Emilio George is met toepaslike beskermende toerusting en ‘n asemhalingstoestel in die tenk laat sak. ‘n Gespesialiseerde toustelsel is gebruik om toegang tot die beperkte ruimte te verkry.
Die liggame van die oorledenes, onderskeidelik 27 en 54 jaar oud, is met hulle gesigte na onder in die water in die tenk aangetref. Hulle is uit die tenk verwyder en aan mediese personeel oorhandig. Die mans is op die toneel dood verklaar.
’n Geregtelike doodsondersoek is intussen geopen om te bepaal wat gebeur het.


