BLOEMFONTEIN. – ‘n Privaat hospitaal in Bloemfontein het kragte saamgesnoer met die Vrystaatse departement van gesondheid om die agterstand van meer as 4 000 gevalle aan te spreek. Dit sluit katarakverwyderings en urologie-gevalle in.
Emoya Med het reeds ses hoëkoste-operasies uitgevoer as deel van hul bydrae tot Mandelamaand. Altesaam tien pasiënte wat katarakverwyderings en urologie-verwante operasies benodig het, is geïdentifiseer.
Die departement se LUR, Monyatso Mahlatsi, sê hulle het Emoya Med genader weens hul enorme agterstand, ‘n tekort aan personeel, en infrastruktuurbeperkings soos die onvoldoende gereedheid van staatsteaters.
“Ons het hierheen gekom om getuie te wees van die begin van ‘n aantal prosedures wat die hospitaal doen om ons as die departement van gesondheid te help met ons agterstand, na aanleiding van gesprekke wat ons met Emoya Med en ander privaat fasiliteite in die provinsie gehad het. Ons is opgewonde dat Emoya Med vandag 10 pasiënte help wat nie ‘n enkele sent sal betaal nie. Hulle doen dit op hul eie onkoste en ons is bly daaroor omdat dit ons mense help.”
Mahlatsi voeg by dat die departement ‘n langtermynplan het om te verseker dat die waglys uitgewis word.
Luidens verslae voer die Emoya Med-hospitaal aan dat hy alle koste van die operasies sal dra. ’n Algemene chirurg wat in gastroënterologie spesialiseer, dr. Vivian Simmons, sê hy is hoopvol dat sulke inisiatiewe na ander hospitale uitgebrei sal word en op ‘n jaarlikse basis gedoen sal word.
Die inisiatief gee pasiënte die geleentheid om hul gesondheid te herwin. Sommige het die volgende gesê:
“Ek het ‘n telefoonoproep gekry wat sê Emoya wil graag help met die operasie. Vandat ek daardie oproep gekry het, is ek hier en ek is regtig dankbaar en gelukkig dat Emoya iets vir die gemeenskap doen.”
“Ek is baie tevrede. Toe ek vanoggend hier aankom, het dit nie eens lank geneem nie en hulle was reeds besig om my te help.”
Die hospitaal sê hy sal ‘n koste-analise van al die prosedures doen en dan besluit oor die haalbaarheid daarvan om meer operasies ná Mandelamaand uit te voer.
Bron: SABC Nuus





