WES-KAAP. – Lubabalo Nkewana (30) en Asisipho Ntana (31) is elk tot effektief 15 jaar direkte tronkstraf gevonnis vir hul betrokkenheid by ’n beplande rooftog wat tot die dood van Jetro Fritz (Jethro Fritz), ’n 10-jarige seun gelei het.
Eric Ntabazalila, NVG-woordvoerder, sê die beskuldigdes is in die Kaapstad-hooggeregshof skuldig bevind aan die moord op Fritz, asook die poging tot moord op polisiebeampte kapt. Jacques Patrick Edas, Jaymar Petersen (3), sy kleinseun en winkeleienaar Min Lin. Hulle is ook skuldig bevind aan poging tot roof met verswarende omstandighede. Die hof het bevind dat die twee deel was van ’n voorafbeplande plan om die KTC Family Store te beroof. Hulle het volgens getuienis vier beplanningsvergaderings bygewoon en inligting oor die winkel se veiligheidskameras en besigste handelsperiodes aan Ayanda August, die vermeende meesterbrein, verskaf.
Edas het die winkel saam met Jetro en Petersen op 15 Junie 2018 besoek. Toe hy van die perseel af wegry, het gewapende mans op die voertuig losgebrand. Edas het na die Nyanga-polisiekantoor gery, waar vasgestel is dat Jetro aan sy beserings beswyk het.
August het later ’n pleit-en-vonnisooreenkoms met die staat aangegaan en is tot effektief 20 jaar gevangenisstraf gevonnis, op voorwaarde dat hy teen sy medebeskuldigdes getuig. Die hof het wesenlike en dwingende omstandighede gevind om van die voorgeskrewe lewenslange minimum vonnis af te wyk. Die onderskeie vonnisse loop gelyktydig, wat ’n effektiewe 15 jaar vir elk tot gevolg het. Albei is ook onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit.





