Brekende Nuus
Afrikaans

‘Kapingsindikaat’ op plaas in Ventersdorp vasgetrek

Foto's: SAPD
Foto's: SAPD

NOORDWES. – Te danke aan samewerking van die polisie en veiligheidsmaatskappye is ‘n beweerde kapingsindikaat Vrydag op ‘n plaas in Ventersdorp blootgelê.

Kol. Adéle Myburgh sê verskeie vragmotorsleepwaens, voertuigonderdele, swaardiensmasjinerie, vurkhysers, seinstoringsapparate en koperplate met ‘n geskatte waarde van R10 m. is op die plaas ontdek. Voorlopige ondersoek dui aan ‘n vragmotor met koperplate ter waarde van R6 m. is glo dae voor die ontdekking gemaak is in Estcourt, onderweg na Durban-hawe in KwaZulu-Natal, gekaap. Die vragmotor met koper wat vanaf die hawe uitgevoer sou word, is deur ‘n veiligheidsmaatskappy gemonitor. Tydens die kaping is die sleepwa van die vragmotor (horse) afgehaak en op ‘n ander vragmotor gekoppel. Die oorspronklike vragmotor is kort na die kaping verlate langs die pad aangetref. Myburgh sê toe daar op die plaas toegeslaan is, is daar reeds van die koperplate afgelaai en was in die proses om met die masjinerie kleiner gesny te word.

Nog vyf vragmotorsleepwaens wat in Alberton, Vosloorus en Soweto in Gauteng gekaap is, is op die plaas aangetref. Vier verdagtes is gearresteer en sal op aanklag van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom in die Ventersdorp-landdroshof verskyn.

Myburgh bevestig die saak sal deur die Valke ondersoek word en die moontlikheid van meer sake kan nie uitgesluit word nie.

Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]