VRYSTAAT. – Hoërskool Goudveld in Welkom het vanaf 18 September ’n nuwe beleid ingestel wat die gebruik van selfone tydens skoolure verbied. Dit is nog een skool wat sy stem by ander skole voeg om leerlinge se daaglikse omgang met ander leerlinge en hulle akademiese prestasie te verbeter.
In ‘n sosialemediaplasing sê die skool se beheerliggaam en bestuur die reëls behels dat geen selfone gedurende skoolure toegelaat word nie. Indien ’n leerder die reël oortree, wag daar óf ’n boete van R300 óf die foon word vir 10 dae in ‘n kluis gehou.
Die skoolbestuur sê die besluit is geneem om leerlinge se akademiese fokus, sosiale interaksie en geestesgesondheid te bevorder. Hulle verwys na studies wat toon dat selfone konsentrasie benadeel en sosiale betrokkenheid beperk.
“By Goudveld kies ons uitnemendheid en balans. Ons wil hê pouses moet weer oor ware gesprekke en vriendskappe gaan, en nie oor skerms nie,” lui die plasing.
Die skool beklemtoon dat trots, respek en selfdissipline die grondslag van die nuwe beleid vorm.