GAUTENG. – Kokaïen ter waarde van sowat R20 miljoen is Dinsdagaand tydens ‘n operasie op ’n kleinhoewe in Midrand gevind. Die vermeende eienaar van die perseel (56) is in hegtenis geneem.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê ’n multidissiplinêre span het ‘n wenk ontvang van dwelms wat by ‘n perseel in Blue Hills gestoor word. Inligting het na die kleinhoewe gelei. Die kokaïen is in ’n stoorkamer aangetref. Met verdere ondersoek is vasgestel dat die dwelms uit ’n buurland vir Kaapstad bestem was.
Die ondersoekspan het op die ongeveer 80 kg kokaïen beslag gelê. Die verdagte sal later hierdie week op aanklagte van moontlike besit en handel van dwelms in die Midrand-landdroshof verskyn.
Kry jou nuutste nuus elke oggend per e-pos. Teken hier aan: