LIMPOPO. – ‘n Kleuter (3) is Maandag op die Seshego-hospitaalterrein dood nadat sy glo deur haar ma, wat ‘n oorhandigingsessie by die hospitaal moes doen, in ‘n toegesluite motor vergeet is.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die polisie het omstreeks 15:10 ‘n klag by die hospitaal ontvang en hulle na die toneel gehaas. Met aankoms het ‘n dokter ‘n blou Toyota Corolla Cross op die terrein uitgewys. Die polisie is meegedeel dat ’n 3-jarige meisie gevind is waar sy op die agtersitplek in die toegesluite motor gesit het, met die vensters toe.
Die kleuter is deur ’n mediese praktisyn dood verklaar nadat sy vermoedelik aan hitte en suurstoftekort beswyk het. Voorlopige ondersoek het aangedui dat die kind omstreeks 07:00 deur haar moeder in die motor gelos is en haar klaarblyklik vergeet het.
’n Geregtelike nadoodse ondersoek sal uitgevoer word om die presiese oorsaak van dood te bepaal. Die Seshego-polisie is besig om ‘n saak van strafbare manslag te ondersoek.